Saterdagmiddag so 14:30 val ek, Gerrit, Terence, Elanie en die twee seuntjies, Hugo en Hanno, in die pad na Lourensford om daarvandaan toegang te kry tot die hut. By die sekuriteitshek ontmoet Dave van Hottentots-Holland Afdeling ons om die sleutel te oorhandig.

Ons ry deur die pragtige boorde, wingerde en aangeplante speldekussing- en protealande. Die speldekussings is vol in die blom en is pragtig.

Ons parkeer die motors op die aangewese plek en kry al ons stapgoed reg om die halfuur se stap na die hut aan te durf. Hanno ry op Elanie se rug in die drasak en Hugo stap self. Hy het vol bravade met sy eie rugsakkie weggetrek, maar na ‘n tydjie het die rugsak hom ‘n bietjie ondergekry en die sterk wind het ook nie eintlik

gehelp nie. Nadat ek sy rugsakkie gevat het, het hy flink voor gestap. Terence het vooruit geloop, want hy wou weer motor toe stap om die koelhouer met koue verversings te gaan haal. Gerrit sien toe op die paadjie ‘n protea wat plat op die grond groei en ons kan nie onthou of ons dit al van tevore gesien het nie.

By die hut aangekom, het ons gou nesgeskrop en bietjie die nabye omgewing verken. Die wind het egter baie sterk gewaai en ons het maar in die hut geskuil. Terence het vir ons ‘n heerlike vuur aangesteek en ons kon heerlik braai en ontspan. Die kinders het baie lekker gespeel en die nag het ons een groot krismisbed gemaak.

Sondagoggend na ontbyt het Elanie bietjie met die kinders by die mooi waterpoel gaan speel, maar die wind was onsmaaklik. Ons het maar opgepak en huiswaarts gekeer.

Dit is egter ‘n baie lekker hut en daar is nog heelwat roetes wat gestap moet word.

Dit was nou werklik ‘n gesinsuitstappie.

Erna Kritzinger