Niemand het ‘n oog toegemaak die nag nie, orals lê bloed en kindervingertjies. Maar dit proe lekker, afgesny en aangedra op ‘n skinkbord deur ‘n heks met lang indigo naels. Ook by Groot Klip, op die nek langs Slanghoekpiek, was dit darem Halloween.
Ons is ag slagoffers. Die stappie begin by Bainskloof village en loop al langs die rivier deur happy valley, ‘n mooi uitgestrekte vallei met berge reg rondom. Dis so 12km waarvan die eerste 10km redelik plat is tot by junction pool, alhoewel niemand kon sê watter poel nou die eintlike junction pool was nie. Selfs die ervare en andersins uitstekende stapleier het nie ‘n idee nie en plof neer onder ‘n bos riete. Die res van ons het maar onder die wilde amandels weggekruip vir ‘n bietjie skaduwee.
Die laaste twee kilometer is so 250m op tot by die nek, steilerig in die begin met mooi poele op linkerkant. Freda stamp haar toon voor by die bruggie en twyfel of sy dit gaan maak. Charlie se rug kla. Ons wik en weeg nog of ons onder sal kamp, maar gelukkig is dié twee tawwe ervare bergstappers en slog daar op deur bloed, sweet en trane.
Groot Klip is ‘n magiese plek, letterlik ‘n paar groot klippe op die nek met mooi tent sites, ‘n stroompie naby vir drink en bad, ‘n waterval wat klater, en ‘n sundowner klip uit die wind met ‘n uitsig oor die Slanghoekvallei en Worcester se liggies in die verte.
Die res is maar soos meeste stappies: drink te veel wyn, whiskey, eet snacks, aandete, kyk sterre, gaan slaap vroeg en lekker. Die uit stap was koeler maar voel langer, maar ‘n mens sit maar net een voet voor die ander.
Ons drink nog ‘n bier by The Bell Inn in Wellington. Dit was ‘n wonnerlike wegbreek, lekker kuier en goed vir die siel.


