Om 08h00 Saterdagoggend ontmoet die groep gretige stappers mekaar by die Waaihoek afdraai.
Reyno-hulle se groep het besluit dat Charlie se keuse van roete gans te maklik is en dat hulle lus is
om Hoare hut toe te stap. Braam en Henri oorweeg dit sterk, maar hulle vorige aand se “death metal”
het veroorsaak dat hulle menige belangrike items vergeet en in ‘n algehele brose toestand is – glad
nie gereed vir so ‘n kaliber stap nie.

Die groep stappers geniet die kloof en met gereelde breuke maak hulle vinnige werk van die 5.5km
stap. Om 12h00 daag hulle by die nuwe Kaapstad afdeling hut op. Ons mag blykbaar nie foto’s neem
nie, maar om ‘n prentjie te skep: Dis rooi, dis driehoekig en dit staan trots uit op die helling van die
vallei.

Anderkant die rivier vanaf die hut is ‘n baie aangename kamp plekkie, geheel bedek met bome en
naby die water. Almal skoffel en maak gereed vir middagslapies toe Charlie verkondig dat die sykloof
verken moet word. Net ‘n paar brawes sien kans vir ‘n verdere onbekende stap…

Altus, Ilona, Charlie, Braam, Henri, Renier en Nico spring van klip tot klip in die oneindigende kloof op.
Daar is belowe dat ‘n waterval gesien sal word, terwyl Altus moed verloor en stres oor sy balans op
die rotse. 4km later eindig die groep by ‘n groot en baie koue berg poel met ‘n majestueuse waterval.
Ilona is die enigste een wie die koue water aandurf en sy wys die manne hoe dit gedoen word met ‘n
vinnige lyf natmaak.

Braam, Henri en Ilona besluit die waterval is nie genoeg nie en klouter teen die rotse op na die
boonste poel, waarna hulle verder op kouter en op die ou end by ‘n hoë donker skag uitkom waar die
kloof eindig in ‘n waterval. Tevrede met hul verkenningstog keer die groep terug na die kamp plek om
finaal te rus vir die dag.

Tussen deur die geselsies en heerlike versnaperings ontspan die groep terwyl die son stadig sak.
Susan kry vir Henri vreeslik jammer toe sy hoor hy het albei sy hoender mayonnaise broodjies by die
huis vergeet; sy gee sommer haar hoender broodjie vir hom en Henri is vinnig om ja te se en nog
vinniger om te begin eet.

‘n Mens sou nie kon raai dit is in die berge nie, maar die maaltye wat voorberei is is soos die van ‘n
vyfster restaurant. Nico se steak-prego broodjie was by ver die wenner gewees, terwyl Charlie se
pan-gebraaide wors nie te versmaai was nie. Daar was selfs ‘n paar verdagte brownies in sirkulasie –
dis seker hoekom Lindie so baie gegiggel het.

Dieselfde kan nie gese word oor die akkommodasie nie… Altus het Renier se matras vergeet, terwyl
Susan se opblaas matras in ‘n afblaas matras verander het. Afgesien van die benadeelde slaap
omstandighede was daar gelukkig ‘n oormaat alkohol beskikbaar om seker te maak almal kry ‘n sagte
rusplek. Selfs die boomwortel was net ‘n bietjie lae-rug ondersteuning vir Freda gewees.
Na die koue nag is Altus eerste wakker. Hy was verbied om ‘n woord te sê oor sy koffie-makery, want
die groep wil bietjie laat lê. So, in stilte geniet Altus sy eerste, tweede en derde koppie koffie voordat
die groep uitgerus terugkeer na die parkeerarea toe. Vir oulaas koel die groep in die rivier af voor
hulle laaste kilometer na die karre toe.

Teenwoordigheid: Charlie (stapleier), Freda, Braam, Henri, Jada, Reyno, Gean, Albert, Leon, Susan,
Lindie, Altus, Renier, Nico en Ilona.
-Stapberig deur Braam