Die naweek van 27-29 Oktober 2023 is ons genooi na Marietjie en Heinrich Uys se familie plaas, Looprivier, tussen Citrusdal en Clanwilliam.

Aanvanklik het ons voorberei om te kamp en toe vind ons uit dat daar darem ‘n “huisie” is, maar sonder krag en elektrisiteit. Tot ons verbasing was die huisie toe al die tyd Marietjie en Heinrich se nuutgeboude huis-weg-van-die-huis en dat die krag net nog nie aangelê is nie, maar die gas toe wel die Vrydagoggend gekoppel is. Buiten vir die fantastiese groot braai/kaggel in die huis, het dit ‘n wonderlike stoep gehad met die mooste uitsig, so toe “kamp” ons omtrent in luuksheid.

Die Saterdag oggend het Marietjie en Heinrich vir Elza, Sean en Hannelize teen die berg uitgelei. Dit is nogal ‘n stywe klim tot bo maar word beloon met pragtige fynbos en uitsigte oor die hele vallei. Tot die see naby Lambertsbaai is sigbaar. Dit is so 4 km tot by die kampplekkie bo-op die berg wat bestaan uit ‘n groot rots en boom wat welkome skadu bied. Die terugtog is al die pad afdraand. Bo is dit ‘n sirkelroete maar by die vurk is dit dieselfde pad af. Halfpad by die afdraand is daar ‘n klein spruit waar mens jou water kan aanvul.

Die Poultney’s het egter besluit om nie die berg uit te klim met die kleinspan nie en eerder die korter Knakkiepad aan te durf. Dit was ‘n pragtige sirkelroete wat jou al langs ‘n stroompie in die kloof onder die huis neem.

Terwyl die ander nog besig was om bo-op die berg rond te loop het die Poultneys ook die kinders geneem om bietjie op die plaasdam bootjie te gaan roei, alhoewel klippies in die dam gooi duidelik meer pret was.

Die aand was dit natuurlik die Rugby Wêreld Beker Finaal tussen Nieu-Seeland en Suid-Afrika en terwyl Elza kans gesien het om dit op die groot (TV) skerm in die plaashuis (‘n entjie van ons “kamp” huis af) te gaan kyk het die Poultney’s en O’Kennedys sommer besluit hul is tevrede om die wedstryd op die kleinskerm – d.w.s. ‘n selfoon wat slegs op een kolletjie genoeg sein gehad het – te kyk.

Dit was ‘n heerlike naweek wegbreek en ek kan nie wag om die plaas weer te besoek nie. Dankie Marietjie vir jul gasvryheid.

Gashere:
Marietjie & Heinrich Uys

“Kampers”:
Elza Geldenhuys
Sean & Hannelize O’Kennedy
Terence, Elanie, Hugo & Hanno Poultney