Na ‘n vinnige koffiestop by die Wimpy op die N1 net buite die noordelike voorstede het daar 11
van ons weggetrek na Fizantekraal plaas om ons stap te begin. Jacques was natuurlik weer
sonder skoene. Die weer was ongelooflik – pragtig helder maar nie te warm nie, en ons is
sommer onmiddelik met die lieflike reuk van boegoe gegroet.
Alhoewel die veld en rivier
vreeslik droog was tydens
ons besoek, was daar baie
tekens van die ongelooflike
skade ná die vorige jaar se
vloede. Die pad was gelukkig
in ‘n goeie toestand tot by die
hut. Ek het ‘n paar van die
fikser stappers vooruit laat
gaan sodat hulle solank die
hut kon voorberei terwyl die
res van ons rustig langspad die blomme en plante aanskou het.
Ons was voormiddag al by die hut en het rustig middagete geëet op die stoep, en buite op die
grasperk. Daar is ‘n
splinternuwe plonsput toilet
gebou – nie dieselfde uitsig
as die vorige een nie, maar
baie geriefliker! As gevolg
van die droogte was daar
ongelukkig nie water naby die
hut nie, en dit moes van die
rivier af in kanne aangedra
word. Tog was daar baie lewe
– die koggelmanders was
(soos gewoonlik) redelik
astrant en dus baie vermaaklik. As stapleier het ek besluit om die hut op te pas (lees:
middagslapie te neem) eerder as om die poele te gaan verken saam met die ander stappers.
Agtertafelberghut stap
Saterdag 18 Mei – Sondag 19 Mei 2024
Leier: Kristien Nel Van Zyl
Ek het skêrpioene gaan
jag in die nag, en met
moeite ‘n paar gevind. Dit
was bitter koud, maar
selfs na my skêrpioenjag
was daar ‘n paar stappers
wat braaf was en gekies
het om sommer op die dek
en in ‘n “bivvy” sak buite op
die gras te slaap. Die res
van ons het eerder
snoesig in die hut gebly!
Met dagbreek was dit duidelik dat ons nóg ‘n pragtige
dag sou hê, en daarom het ons maar langsaam
opgepak en rustig die pad huistoe geneem. Van ons
jonger stappers was nie baie beïndruk met hul ouers
dat hulle so ver moes stap nie, maar ek is seker hulle
het dit eintlik vreeslik geniet.
Baie dankie aan Jacques, Braam, Schanté, Ryan,
Saskia, Michael, Dalena, Thomas, Sophia, en Daniel
wat saamgestap het en van die foto’s hier gedeel het!