Daarna slinger die voetpad verder opwaarts oor ‘n stroompie of twee. Ons bereik die reenmeter op die vlakte bo Dwarsberg en kamp daarnaby op gras wat aanvanklik sag lyk; deur die nag kom jy egter agter dis ene hobbles (of was dit net ek?!).
Die middag het ons genoeg tyd om stroomaf te verken en onder 2 pragtige watervalle te swem. Ons kuier die aand lekker weerskante van die stroompie… dis ‘n pragtige plek. Almal was redelik vroeg “lights out”.
Sondagogggend is ons vroegerig uit met dagsakkies om Victoriapiek te klim. Dit was n pragtige matige oggend. Uitsigte verbeter soos ons styg. Na die weste sien ons die Jonkershoekvallei en Stellenbosch, oos is Theewaterkloof dam en Villierdorp kant. Die piek is meer ‘n ronde skaliekoepel; dis maklik om te stap. Daar is ook ‘n “maantuig” agtergelaat (of is dit die huisie vir kommunikasie-toerusting?)
Na goeie rondkyk, eet en ‘n paar liedere sing (ja ek weet), het ons die lang pad af aangedurf; die tonele bly pragtig. By die kampplek was die son reeds hoog en warm. Almal het opgepak en traagrig die lang afwaarts motors aangepak. En dit was warm. Die middagson bak direk op mens as jy weswaards af stap. Die motors onder lyk of dit oninhaalbaar ver bly. Uiteindelik onder gekom was die swempoel by Witbrug n heerlike lafenis; meeste het geswem voor ons uitgery het. Dit bly ‘n heerlike en nie te moeilike stap; sal hom weer doen oor tyd.