Die 5 van on s begin Vrydag laat so 17:00 vir ‘n kort 4km stappie na Disa poel vanaf die parkeerterrein en slaan tente op tussen die rotse op sagte sand. Nico het sy eie klipoorhang wat die volgende oggend as almal se reënskuiling sou dien. Ja, na ‘n pragtige sundowner op die rotse en ‘n nag met sterre, begin dit net na 07:00 die volgende oggend reën. Die kans was skraal, maar in die berg is die wolke mos altyd meer! Ons byt maar vas en trek toe maar weg in die “drizzle” tot by die afdraai na Kliphuis, so 10km verder. Behalwe vir die proteas, lyk dit nogal soos Skotland, merk Charlie droogweg op terwyl almal se voete “slosh” in hul boots.
Na tee en versnaperinge onder ‘n groot klip, lig die mis en wolke, en ons kom verbasend warm by Kliphuis se akkerbome aan. Inteendeel, ons kort toe net daar ‘n sonskerm break. “Hoe kan die weer so vining verander”, vra Adriaan se seun Finnian?
Almal was dit eens dat hierdie ‘n verlate dog idilliese kampplek is en ons maak ‘n nota vir die toekoms. Ons kruis die ruggie na die volgende vallei en stap in die vallei af in die rigting van die tronk, met ‘n ontspanne middagete op die klipbanke van die Klein Kliphuis Rivier. Die veldblomme is pragtig en die veld is skoon gewas na die oggend se reën. Twee klipspringers en ‘n klein slangetjie is die enigste lewe en dis duidelik dat hierdie deel van die Groot Winterhoek baie min mense kry. Almal storm blykbaar verby na die Tronk en die Hel en mis uit op die stilte, rotsformasies en pragtige fynbos van die Noord-Oostelike hoek van die reservaat.
Ons slaap langs die Groot Kliphuis Rivier en swem heerlik in die lang swart poele. Skoene droog vining uit en die sundowners begin te vroeg, maar dit was ‘n eenparige besluit na hierdie “ongemaklike” 16km dag! 05:30 bak die son ons wakker die volgende oggend en ons vertrek vroeg al langs die rivier terug vir die laaste 5km. Dis weer snikkend warm en ‘n groot swempoel word opgesoek voor die motor bereik word teen 12:00 na ‘n totale sirkel van 27,5km. Dankie manne, dit was mooi en die moeite werd! Dames, dalk volgende keer, dis maklik genoeg met baie water langs die pad!
Stappers:
Verwey Wiese (Leier), Charlie Buckle, Nico Steyn, Adriaan Smit en Finnian Smit (gr. 8)










