Na ‘n besige jaar teen pre-covid pas het ons met peuters, kleuters en die jonk van gees die Hottentotsberge aangedurf.

Ons het Saterdagoggend via Lourensford landgoed die hut benader. Nadat ons vriendelik verwelkom is deur die Somerset wes klub en sleutel ontvang het was ons op semi 4×4 roete na hut toe. Mens kan die hut bereik via Lourensford en Vergelegen Landgoed. Almal was deeglik voorberei. Eben en Terence het voorsiening getref vir ys en koue bier. Van koekies en lekkergoed was daar in oorvloed en almal was in goeie gees berg op na die hut toe.

Die hut was koel en skoon met ‘n ongenooide gas wat ons binne verwelkom het. Die skerpioen met groot knypers en klein angel het almal laat loer. Ons was gerus gestel dat hy nie giftig is nie maar steeds na buite vergesel en nie ingenooi vir oornagkuier nie.

Die hut is goed toegerus met gas, eetgerei en luukse matrasse. Die ouer kinders – Grethe en Gustav het dadelik met die loodregte leer na die solder geklim en hul slaapplek daarbo uitgelê.

Na ‘n lekker koffie het Elanie, Linda, Nicola en die kinders afgestap na die verfrissende rotspoele waar almal in die water kon baljaar. Ons het later met die ouer kinders stroom op gestap waar hul al hul energie en konsentrasie kon rig om van rots na rots te spring en die natuur te verken.

Met sononder was dit tyd vir ‘n lekker wyntjie en vleisie oor die kole. Die manne het nie geskroom nie en daar was vleis in oorvloed soos net Suid Afrikaners dit kan doen. Die geselskap was gesellig, filosofies en almal het vining mekaar leer ken soos ou vriende.

Die grootste aanwins van Johnson’s hut in my opinie is die uitsig en alleenheid van die toiletgeriewe. Dit voel regtig soos ‘n troon met uitsig oor vals baai, berge en fynbos om jou.

Die wind het die volgende oggend nogals kwaai kopuit gesteek. Na ontbyt en oppak is ons weer bergaf na die motors toe. Eben en Linda het met hul kroos die kronkel roete geneem en kon nog meer van landskap inneem.

Dit was ‘n lekker gemaklike wegbreek so aan die stert kant van die jaar.