Soos enige kranige stapper jou sal vertel, is ‘n gebalanseerde stapsak een van die sleutels tot ‘n gemaklike stap. So, pasop as ‘n vriend die aand voor jou stap met twee bottels wyn by jou opdaag om te help met die balans hou… dit maak dat mens effe moeg en sonder “stap wyn” wakker word… moes toe maar noodgedwonge ‘n blik tamatie en uie smoor inpak vir balans.
Gelukkig vir ons, was Saterdag die perfekte sprokiesboek mooi stapdag in die vars lae miswolke wat ons soos sagte spookasem omvou het om al die pad tot bo te stap. Net so af en toe was daar ‘n loergaatjie waardeur ons die onbeskryflike natuurskoon vir net ‘n oomblik kon sien.
Teen laat middag het die wolke gelig om vir ons nog wonders te wys en plek te maak vir die helder nagsterre. Van ons het heerlik buite onder die afdak geslaap om meer van die sterrehemel te beleef.
Die terugstap was net so mooi met uitsigte oor die vallei en klowe.
Thomas Hut (18-19 Februarie 2023)







