Daar was toe net 3 brawe stappers (een onfikse leier, een kaalvoetkind en een nuwe lid) om Left Face te takel op ‘n pragtige Saterdagoggend. Die weer het mooi saamgespeel met min wind en die tafeldoek wat die son van ons rûe afgehou het, maar nie die uitsig belemmer het nie. Ons het die oggend met die Platteklip “hoofweg” begin, maar kon gelukkig gou van die skares ontsnap en die bakens links uit volg, op ‘n dowwe steil paadjie.

Die bakens het soms probeer wegkruip teen die hange, maar ons het gou gewoond geraak aan die soek-en-skarrel teen die klippers op (met gereelde pouses om asem te skep) en is beloon met asemrowende uitsigte. Die geraas van die stad het gou verdwyn en selfs die skares op Platteklip het ver gevoel.

Ons het ietsie geëet onder ‘n beskutte oorhang naby aan die bokant van Left Face en die uitsig geniet. Niemand het gehuiwer by die berugte “awkward step-over” nie en ons het daarna gou-gou die kruinrif bereik. Hier het die tafeldoek natuurlik gelê en ‘n yskoue windjie het selfs vir Jacques sy baadjie laat aantrek. Dit was nog té vroeg om huistoe te gaan, en daarom het ons toe sommer by Maclear se baken gaan draai.

Ons het met die India Venster roete afgestap: daar was bokkies naby die kabelkarstasie en afgesien van die bo-deel wat onlangs gebrand het, was die roete net so mooi soos gewoonlik, maar verbasend besig – selfs ‘n groep met skoolkinders.

Die son het ons uiteindelik begin vang toe ons die kontoerpad bereik, en ons was verlig om die eindpunt the bereik, na sowat 10km se lekker stap en klouter.