Paasnaweek lê voor en 6 gesinne is reg om te gaan naweek hou. Die Poultneys is die enigstes wat al Donderdagmiddag die pad na Kaaimansgat aangedurf het en Terence (ek dink taamlik verlig) het laat weet dat die X-Trail met die sleepwa die pad tot bo gemaak het. Hulle het hul tuisgemaak in die houthuisies en later die aand vir ons ander ‘n pragtige foto gestuur van die mooi aand.
Vrydagoggend durf die res van ons, elkeen op sy eie tyd, die pad na Kaaimansgat aan. Die Kritzingers daag eerste op en vind die Poultneys waar hulle heerlik met die twee seuntjies by die swempoeletjie speel. So kom die res van die groep kort na mekaar daar aan en elkeen wat arriveer, word met afwagting ingewag en word uitgevra oor hoe hul die pad ervaar het. Eben en Daniel ook elkeen met ‘n swaar sleepwa.
Dit is maar kouerig en Terence maak lekker vuur in die lapa om patties te braai vir middagete se hamburgers, terwyl die res hulself inburger in die res van die houtkamers en die Koegelenbergs en Van Zyls tent opslaan.
Ons verkeer rustig en daar word lekker gesels en die kinders speel al te lekker. Vrydagaand het almal lekker saamgebraai en natuurlik so ‘n ou doppie of twee gedrink. Gedurende die nag het dit liggies begin reën.
Saterdag het ons maar die meeste van die tyd onder die lapa deurgebring. Die grootmense het gelees, gesels en later maar weer vuur gemaak, maar die kinders het heerlik in die modder en poeletjies gespeel. Ons het maar vir hulle plastieksak-reënjasse gemaak om net die lyfies droog te hou. Gelukkig het dit net baie saggies gereën en ons kon darem af en toe onder die lapa uitbeweeg.
Sondag het die reën gelukkig opgeklaar en kon die wat wil darem ‘n bietjie gaan stap. Daar is ook vir die kleintjies Paaseiers weggesteek en die soekery was groot pret. Kristien en Jacques was die enigste brawes wat die steil kloof aangedurf het en die berg gaan klim het. Ek glo hul is beloon met die pragtige uitsig wat ons die vorige keer beleef het. Ons ander het maar met die kinders in die grootpad gestap en die mooi veldblomme geniet.
In die lig daarvan dat reën weer vir Sondagaand en Maandag voorspel is, het die meeste van ons toe maar Sondagmiddag teruggekeer huis toe en die Van Zyls en Oliviers het gebly tot Maandag.
Dit was voorwaar ‘n heerlike, ontspanne gesinsnaweek en die kinders het dit gate uitgeniet in die natuur.













