Dou-voor-dag (agtuur die oggend), ontmoet daar ‘n trop van ons mekaar by die Engen Wynland 1 Stop, op pad na die Paarl. ‘n Paar koppies koffie en tee later, en ons was reg om te vertrek – in ‘n konvooi bo-oor die Du Toitskloofpas na Fisantekraal plaas, waar die stap begin. Dis ‘n pragtige pad na die parkeerterrein en ons was dankbaar dat ons nie al daardie ekstra kilo’s vanaf Du Toitskloofhut hoef te gestap het nie.
By die parkeerterrein het Eben (die stapleier) eers doodseker gemaak dat almal se parkeerpermitte mooi in die karvensters vertoon word en die logboek ingevul is, want ons is baie gehoorsaam aan die wet! Ons het skaars weggetrek by die Jeep-pad af, toe Leon besluit om terug te draf vir sy kamera. Min het ons toe geweet dat daar weer gedraf sou moes word…
Klein Ben het ons gehelp om rivier te soek om elke hoek en draai. Toe ons die groot een vind, was almal tog te bly om ‘n ruskans te neem voor die sloer by die bult op, met die sonnetjie wat op ons bak. Voordat ons ons oë kon uitvee, was die hut in sig, skouspelagtig in die verte teen die hang. Die spanbrug was pret vir dié sonder hoogtevrees; die water het gewink, maar die koue windjie het die meerderheid oortuig om nié in te spring nie.
Gou-gou by die hut, net betyds vir middagete, maar – helaas – daar is ‘n kombinasieslot wat die leier se wete ontgaan het! Tydens middagete het die kinders, Ben, Lisa en Martie, lekker in die gras gespeel en die res van ons het beurte gemaak om die kombinasie te probeer raai. Selfs die berugte slotkieser, Barend, kon dit nie kraak nie. Eben, wat gelukkig in elk geval vir Comrades moes oefen, het intussen die pad gevat en sein gaan soek… al die pad tot buite die plaashek!
Hy vind ons toe ‘n paar uur later, klaar in die hut, waar ons onsself deur die agterdeur ingelaat het. Dog was hy ‘n welkom sig – die agterdeur is net bereikbaar vanaf ‘n hoë stoep bo die rotse – onprakties, veral met al die kleintjies wat baie graag op plekke wil klouter waar hulle nie moet nie.
Daar is natuurlik ouder gewoonte ‘n paar boksies wyn saamgedra; ons het dit geniet terwyl ons die pragtige uitsig vanuit die hut aanskou het. Later die aand het ons skerpioene gesoek – as jy bang is vir hulle, moenie ‘n UV-lig in die aand in die berg aanskakel nie!
Die volgende oggend moes ons mooi kyk of Martie nog daar was, want sy was die stilste en soetste baba, en dit blyk dat sy haar eerste oornagstap geniet het! Na ‘n (paar) koffies en beskuit was daar langsaam opgepak sodat ons die pad na die kar kon aanpak. Ons het weer by die riviertjie gestop sodat die kinders (en Jacques) in die water kon speel. Die motivering het so ‘n bietjie begin opraak teen die laaste heuwel, maar Ben het vir ons mooi liedjies gesing om ons aan te moedig.
Na die stap het die meeste van die groep by die forelplaas lodge gestop vir ‘n drankie om die opwindende naweek mee af te rond.







