Na n reënerige aandkamp aan die beginpunt van Welbedacht Kloof en ‘n lekker sterk koffie, het 13 stappers na die kloof gestap en toe opwaarts begin beweeg. Dit was ysig koud, maar die natuur was vars en lieflik. Dit is altyd hemels om in die Cederberge te kan wees. Ons eerste teepouse was vanselfsprekend in die Welbedachtgrot, waar ons vrolik gekuier het en koekievoorrade ondermekaar uitgeruil het. Op ons verdere roete opwaarts in die rigting van Tafelberg het die wolke begin saampak, maar die bekende ‘spout’ (tuit) van die Tafelberg het kort-kort deur die wolke geloer en ons aangemoedig. Die ysige koue het ons aangevuur terwyl ons al hoe hoēr teen die helling opwaarts geklim het, maar toe ons uiteindelik die snoesige Spout Cave bereik, het almal blitsig in hul slaapsakke skuiling gesoek. Tydens die koffiepouse het ons heerlik geskerts, elkeen deel van ons slaapsakstapperssirkel. Deel van die groep het verkies om die ruskans te gebruik vir ‘n middagslapie, terwyl die ander geklim het na die piek van Tafelberg. Daar was nie veel van die uitsig te sien nie weens mistigheid, maar dit was so spesiaal om bo die vreemd-gevormde klippe rond te baljaar.
Daardie aand was ons kamp in die grot bitter koud, maar prettig. Ons het weer in ons slaapsakpartytjiesirkel gekuier totdat almal in ‘n nessie gedraai het vir die nodige nagrus.
Die volgende oggend is ons begroet met digte mis en het so stuk vir stuk die son sien deurbreek . Die staptog na benede was sonder voorval, met ‘n teepouse by Welbedacht grot.
Hierdie groepie mense was net ‘n plesier om saam te neem op ‘n staptog. Almal het die wilde wit wolke en ysige koue sommer baie geniet. Ek sien uit na die volgende keer!
















