‘n Klein groepie dapper stappers het Tafelberg Saterdagoggend aangedurf. Die weer het bietjie sleg gelyk aan die begin, maar dit was toe eintlik ‘n pragtige windstil dag. Ons het heerlik teen Kasteelspoort uitgestap op pad na die Tafelberg hut toe. Eben het die hut oopgesluit en toe weer saam met Dwight (dankie!) afgestap om Linda en die kinders te gaan help. Hulle het toe al klaar baie mooi vordering gemaak en was al omtrent halfpad op! Van daar af is die laaste entjie lekker maklik afgelê en ons het almal lekker begin kuier in die hut.
‘n Digte mis het oor die berg ingerol, maar dit het ons nie gekeer om bietjie te verken nie. Ons het soos spoke deur die triestigheid gestap en ‘n draai by die museumpie en die dam gemaak. Dit was eienaardig om die berg so te sien, windstil met net 10 meter sigbaarheid en paddatjies wat kwaak.
Terug by die hut het ons ‘n lekker vuurtjie in die stofie gemaak en heerlik gekuier en kos gemaak terwyl die kinders op en af gehardloop het in die hut. Dit was ‘n baie gesellige aand!
Die afstap Sondag was nogal rof. Die wind het erg opgekom en ons amper van ons voete afgewaai aan die bokant van Kasteelspoort. Ons moes maar keer om seker te maak die kinders waai nie af nie. Die berg was ongelooflik vol mense ten spyte van die gure weer, ons het seker meer as 70 getel wat Kasteelspoort op en af gestap het. Toe ons onder kom, besef ons hoekom: Die weer in Kampsbaai was toe heerlik, met net ‘n gemiddelde sterkte wind. Die laaste stukkie is speel-speel afgestap.
Dit was ‘n heerlike oorslaap en ons maak weer so!
















