Voor sonop kom ons by ons stapkaptein se huis bymekaar met ‘n vooruitsig van reënweer wat voorspel is.

Almal staan in ‘n groepie en staar na die berg bagasie vir een aand se oorslaap, elk met ‘n ekstra sak vir die 6kg wat vir jou na die hut aangery word.

Daars geen manier dat dít, insluitende 6 insittendes, in een voertuig gaan nie… maar wonder bo wonder… oomblikke later het ons skynbaar bobaas “tetris” speler André alles en almal in die kar.

So 8:30 weeg ons by die hoofhek ons sakke met so paar laaste senuagtige skuiwe in, (ja hul weeg dit rêrig) en durf die eerste dag se 13km van klipperige heuwels en dale al langs die Valsbaai kus aan. Om elke hoek en draai lyk die wêreld anders met asemrowende see afgrond uitsigte en dan weer die plat fynbos landskap.

Amper halfpad draai ons, op die spankaptein se aandrang, weg binneland toe om sy uithang koffie-lus by die “Info centre” te gaan les, net om met skok te besef dat hulle nie koffie verkoop nie. Nietemin is die 5km ompad die moeite werd met ‘n welkome rusplek vir middagete met eie koffie maak en ‘n stappie deur die wêreldklas uitstalling daar.

Die laaste paar kilometer word rustig afgelê met die wete dat daar yskoue verversings by die hut vir ons lê en wag.   Die aand word daar na ‘n heerlike sterk warm stort lekker om ‘n braaivleis vuur glasies geklink en stories uitgeruil terwyl die asemrowende uitsig oor Valsbaai ingeneem word.

Sondagoggend trek ons weer so net na 8 uur weg vir ‘n stap op van die lang strande en soms oor netjies gepakte boulder paadjies, al langs die see af. So min of meer op die halfpadmerk draai die paadjie weg binneland toe in die rigting van die hoofhek. Ons stop so net na 12:00 vir middagete op ‘n lekker plat klip met ‘n uitsig oor die see vir ‘n welverdiende ruskans voor ons die laaste “rustige” 6km aanpak.  Met ons skeef gedrukte pamfletkaart het niemand mooi geweet wat die pad vir ons vorentoe inhou nie.

Na 16km se mooi stap oor sand, boulders en deur vleilande, met ons gedagtes al by die terugrit met moeë bene snus agter in die kar, neem die laaste “lang” 4km ‘n onverwagste draai. Ons klouter die hoogste heuwel in die park tot bo by die baken uit en sug toe ons sien waar die paadjie klein word teen die bult af, net om weer die volgende net so hoë bult uit te klouter voor jy ander kant afdaal kar toe.

Alles daar gelaat: Mense, hierdie roete is ‘n MOET stap vir elke stapper om die natuurskoon in ons agterplaas te bewonder. Al is die stap nie ‘n Sondagmiddag uitstappie in die park nie, is dit ook nie uiters uitdagend nie. As jy ooit in jou kop voel dat jy net weer wil bevestig hoekom jy in die Kaapse skiereiland woon… doen die een.

Eugene Binns