Saterdag: Drie Susters
Dit was veronderstel om heerlike lente in die Overberg te wees, maar Sandra het die weer vir Saterdag met ‘n arendsoog dopgehou. Waterbottels en reënbaadjies was die hoofvereiste vir die groep wat die Drie Susters by Kleinmond kom stap het. Lekker klomp “ou” garde en ‘n jongeling, Sinead, uit die Kaap. Met die wegspring, val daar al verdwaalde druppels en by Jeans Hill se nek kyk almal of hulle die pot goud aan die onderkant van die reënboog kan raaksien. Charlie en Freda stap voor, maar wag darem vir die agterhoede, Elza en kie, om by te kom.
Ons vorder redelik en onderkant Sandownpiek verander die taal in “comment se déroule l’itinéraire?” (Hoe lyk die roete?) toe ons ‘n groep Franse dames inhaal. Ons beveel aan dat die twee wat maar erg aan hoogtevrees ly terugdraai, want vanaf Sandown raak die roete meer blootgestel met hier en daar ‘n scramble. So in die klim word die reënbaadjies aangetrek sodra dit effens begin reën, net om weer ‘n ruk later uitgetrek te word as die son deurkom. Ons geniet die 360 grade uitsig van die hoogste Suster (634m), maar die wind is onplesierig en ons stap aan die agterkant af na Spooknek. Die Franse wag vir ons by die aansluiting van die kontoerpad, want die kaart wat hulle gehad het was van die groter Kogelberg en het geen detail van die Kleinmond staproetes aangedui nie! Daar word gesorg dat hulle weet hoe om by die beginpunt uit te kom. Middagete is by Spooknek genuttig. Freda begin spook met die gedagte om verder te stap en Perdeberg te doen, want sy was nog nooit op die piek nie. Charlie “lyk” nie baie lus nie, maar sê dat hy sal saam stap. Met die reënwolke wat weer begin saampak het, is die detour toe nie uitgevoer nie. Ons stap deur die besondere fynbos aan die hange van Perdeberg af tot by die Palmiet.
Freda stap haar eie roete oor ‘n bruggie toe sy nie vir Charlie onder die bruggie sien water drink nie. Die Palmiet bruis lekker waar ons die stroomversnellings besigtig by die Kleinmond se pompstasie. Langs die Palmiet trek die grysgordyn finaal toe en reënbaadjies doen uiteindelike hulle werk.
Die houtpaadjie vanaf Palmiet strand na die hawe blink in die reën en hou ons bokant die staande water van die winter se goeie reën. Ons stop letterlik by die Stoep Kafee vir ‘n lekker droe koppie koffie en wag dat die reën ‘n bietjie skiet gee. Die laaste 3km van ons 18.5km sirkelroete gaan deur Kleinmond se strate tot by die berglane.
Fotograaf: Sinead.
Lede: 5 + 1 besoeker
Sondag: Botriviermond
Die reënwolke is weg en die roete is ‘n uit-en-terug, strandlangs vanaf Kleinmond. Die eerste kilometer is die strand baie skuins en moet jy maar hoogop in die sagter sand stap. Die vorige dag se reën help darem dat jy nie heeltemal wegsak nie. Ons het die stap beplan met laagwater so 11:00 die oggend en die laaste vier kilometer is daar ‘n lekker harde strook om op te stap. Die een verblydende aspek is die min plastiek op die strand. Kleinmond doen baie moeite in die verband met groot vangnette voor al die stormwater uitlate in die dorp. Die monding van die Botrivier is lekker breed met ‘n sterk stroom wat die see invloei. Die monding het vanjaar natuurlik oopgebreek nadat dit twee jaar gelede oopgemaak moes word toe die vlak van die meer die vereiste hoogte bereik het.
Na “high tea” het ons teruggestap. Uit en tuis was dit 14 km en 4 ure.
Lede: 5
Dit was lekker om die klub op Kleinmond te ontvang en is bly dat die stappe plaasgevind het na verlede jaar se “no show”. Perdeberg gaan weer op volgende jaar se program wees sodat Freda haar wens kan vervul.
Sandra en Carl Lombard