Dag Een: Goudveld hek ► Millwood Hut
Op 21 September 2023 het agt dames en een heer die Outeniqua staproete aangedurf. Elanie Poultney het die stap gelei en op dag een, om en by 14:00, het die stappers mekaar ontmoet by die Harkerville bosboustasie om na die beginpunt by Gouveld hek gependel te word.
Die Stapspan van links na regs: Hannelize en Sean O’Kennedy, Elanie Poultney, Ulla Esterhuizen, Estelle Zietsman, Sinead Ferns, Yolandi Slabbert, Louise van der Merwe
Die weer was sonnig en matig en ons het maar onsself goed gesmeer vir die ligte paar kilo’s met die jeeptrack op. Hierdie jeeptrack het al die pad tot by die eerste hut gestrek. Die pad neem jou verby Krisjan-se-nek piekniek area (waar ‘n paar blou apies besig was om te speel) en wat die laaste rusplek is van Daleen Matthee (waar die groot geelhoutboom na haar vernoem is). Verder in die woud in het Sean, Hannelize en Elanie ‘n snaaksie voël gesien. Estelle het later van die beskrywing af dit geidentifiseer as die Narina Trogon, of Bosloerie in Afrikaans. Die hele middag was opdraand met jeeptrack en die stappers se sakke was nog swaar.
Toe die stappers om 17:00 by Millwoodhut aankom, was almal bly om te ontspan en hulle sakke neer te sit. Die hut is toegerus met ‘n kombuis en kaggel en genoeg slaapplek vir drie keer ons tal. Ongelukkig was die krag af by die hut en die stappers kon nie hulle selfone laai nie en die stortwater was maar koud.
Die hut is toegerus met ‘n langhefbyl en houtkaparea en Yolandie het dit geniet om bietjie hout te kap. Sean het vuur aangesteek om te braai en die groep het gesellig onder die lapa kos gemaak. Soos die son gesak het, het daar selfs ‘n paar vlermuise onder die dak se nok uitgekruip en die nag ingevaar.
Dag Twee: Millwood hut ► Rondebossie hut
Dag twee het vroegerig begin deur ‘n kort stukkie terug met die jeeptrack te stap. Die dag se stap was meerendeels afdraande na die Kougarivier onder matige digte bos. Die bos was klam en ruig, maar mooi. Die afdraande was styl en op stukke is daar toue en kabels wat stappers kan gebruik om mee af te klim. Met die oorsteek van die rivier is ‘n styfgespande kabel oor die rivier en meeste van die stappers het hul skoene uitgetrek en oor die klippe geklouter. Hier het Estelle kop eerste in die rivier geplons met haar swaar sak nog op haar rug, gelukkig was Ulla byderhand om haar op te help. Die stappers het weer die steilte aangedurf sodra hulle voete droog was en die groep het middagete in die woud bo die rivier geniet.
Na middagete het die stappers verder in ‘n digte woud in gestap waar die wandelpad aansluit by die bosbewaarders se jeeptrack. Die meeste van die stappers het al die bordjies gevolg, maar Louise het vooruit gestap en heeltemal die bordjie gemis na Rondebossiehut. Toe Ulla en Estelle terugdraai om seker te maak hulle is op die regte pad en vir Sean, Elanie en Hannelize ontmoet sonder om Louise in die middel te kry, was daar duidelik iets fout. Gelukkig was die hut net onder twee kilometer verder en Yolandie en Sinaed was reeds by die hut. Drie onbekende, jong gesigte het ook die span ingewag. Drie stappers van Port Elizabeth het ingestap daardie oggend na Rondebossiehut en het reeds vuur angesteek om te braai. Almal het hulself voorgestel en besef dat ons span twee jong here en ‘n dame gegroei het vir die roete. Hulle is aangename mense en onafhanklik, maar het reeds ‘n stel gapende stapstewels gehad wat aanmekaar gehou is met sokkies.
Die span het sakke neergesit en besluit om ‘n halfuur te wag voor ‘n paar die bos invaar om Louise te gaan opspoor… Maar dit was nie lank voor Louise ook by die hut aangestap gekom het nie. Sy het gelukkig besef dat sy verbygestap het en omgedraai. Buiten vir die nuwe stappers wat by ons aangesluit het, was daar ook nog ‘n gas – ‘n padda het homself tuis gemaak in Ulla se bed wat gelei het tot vele vermaak. Almal het die aand gesellig om die vuur gekuier.
Ongelukkig was hierdie hut ook nie met krag of warm water toegerus nie, maar dit het ons darem vooraf geweet.
Dag Drie: Rondebossie hut ► Diepwalle hut
Die driespan van PE het vroeg op dag drie vertrek met hulle eie skedule terwyl die res ‘n vinnige ontbyt geniet het. Elanie, Sean en Hannelize het selfs ‘n fritata gemaak en effe langer by die hut vertoef voor hulle ook in die pad geval het rondom 09:00. Die dag se stap het begin met ‘n steilte op uit die woud uit na die hoogste punt op die roete, Jonkersberg. Die weer was gedeeltelik bewolk, maar steeds lekker sonnig en die natuur baie mooi. Soos die roete die bos verlaat, het die omgewing verander na fynbos met baie wilde ertjies, erikas, watsonias en proteas wat in blom was.
Bo-op Jonkersberg is ‘n uikykpunt waar daar middagete geniet is. Orals langs die pad is gedolwe en gate wat gegrawe is, moontlik bobbejane of bosvarke se handewerk. Af by Jonkersberg het die weer meer bewolk en mistig begin word en op die nekkie aan die onderkant van die berg is daar die gekoggel van ‘n bobbejaanmannetjie gehoor (so asof daar op die kleintjies geskel word). Elanie het ook die bome sien skud soos die bobbejane te kere gegaan het.
Onder in die kloof loop ‘n mens deur ‘n feetjieagtige bos met ‘n kronkelende stroompie voor jy weer die jeep track bereik. Elanie, Hannelize en Sean, die agterosse, het besluit om middagete by die rivierkruising te geniet bo-op die brug, maar net toe hul begin smul aan hul kos begin die druppels te val en is die middagete kortgeknip. Die volgende veertig minute se drie kilometer bult uit in die reën was onaangenaam, maar vinnig kafgedraf. Toe hulle by die hut aankom, tref hulle Louise, Ulla, Estelle, Sinaed en Yolandi aan, maar die driespan van PE was skoonveld. Almal het gedink hulle het maar besluit om in die reën uit te stap, maar ‘n uur of twee later (nadat ons al verklee het, ‘n versnapering geniet het en vuur aangesteek het) daag die span van PE daar op.
Nadat hulle saam met Elanie die kaart ondersoek het, het dit duidelik geword dat hulle die verkeerde draai gevat het nog voor Jonkersberg en ‘n ekstra 7 kilometer sirkelroete bygevoeg het tot die dag se 13 kilometer roete. Hulle was pootuit en die dame se skoene was vodde, die sokkie herstelwerk het teen die tyd heeltemal verweer. Die twee manne het ook haar rugsak oorgeneem en hulle sakke was ook heeltemal te swaar gepak.
Daardie nag was daar wel krag en die ablusieblok, wat 150 m weg in die reën was, het wel warm water gehad. Die span het beurte gemaak vir warm storte en tussen reënbuie na die ablusieblok gedraf. Daar is kos gemaak en na almal se fone weer gelaai was, het die nuus van die stormvoorspellings deurgesyfer na die stappers. Met die dat die fone gelaai is en daar selfoon ontvangs was, het Louise en Elanie selfs nog die rugby wedstryd gekyk tussen Suid-Afrika en Ierland in die wêreldbeker.
Dit het al hoe harder begin reën en is daar besluit om die bosbewaarders die volgende oggend te kontak om te hoor of die stap sal kan voortgaan.
Dag 4:
Die nag was rusteloos en die wind en weer het Diepwallehut se dak laat ruk en klap. Die oggend van dag 4 het die span ontbyt gemaak en Elanie het die bosbewaarders gebel. Die eerste beampte waarmee gepraat is, was swaarlik onbewus van die swaar weer en sou ons besware aan sy hoof oordra en Elanie terugbel. ‘n Uur later kry Elanie ‘n oproep en word vertel dat die bewaarders ons sou optel.
Die bewaarders het ons opgetel met ‘n bussie en uitgery met die hoofpad tussen Knysna en Uniondale. Die storm se handewerk het vinnig ooglopend geword toe die bussie elke 500 meter moes stop sodat die bewaarders met kettingsae die bome wat in die pad geval het, kon opsaag en uit die pad uit rol.
Ons is by Harkerville bosboustasie afgelaai, waar die karre gestaan het, en die span het vinnig verklee om die pad aan te durf huis toe. Ons het oral riviere in vloed gesien en selfs fonteintjies wat gespruit het langs die pad by die Botrivier wat die volgende dag verspoel het. Ons het almal gelukkig veilig tuis aangekom voor die paaie verspoel het of gesluit is.
Geskryf deur: Sean O’Kennedy (met ‘n paar bydrae van Elanie Poultney)