Dag 1: Woensdag 19 Oktober – Potberg Hut

Daar is ooreengekom dat die verskeie stappers, ‘n totaal van 12 mense van verskillende afdelings van die BKSA, mekaar ontmoet by De Hoop Natuurreservaat vir die verpligte “briefing” wat 14:00 begin. By die briefing is ‘n kort video gewys van die roete, waarna die volgende 5 dae, insluitend die weer, in meer besonderhede bespreek is, asook die reëls – die briefing was duidelik gemik op (en as gevolg van) onervare stappers. Tussen die 12 stappers het hul egter net 3 vol grootte kaarte uitgedeel terwyl die res maar hul oë op skrefies moes trek om die klein kaarte te lees.

Na die briefing is ons dadelik na Potberg hut vir ons eerste aand in luuksheid. Die hut was skoon toegerus met ‘n mikrogolfoond aangesien krag nog deur Eskom verskaf word by die hut (en dit darem nie load shedding was nie).

Almal het dadelik aan die werk gespring om hul kratte te begin pak, behalwe vir Steven wat die enigste brawe stapper was om sy eie sak te dra vir die 55.7 km. Vir die slack packing opsie word jy voorsien van ‘n 70 liter krat, wat nogal anders is as om uit jou rugsak te lewe. ‘n Mens is mos maar gewoond aan jou eie sak en waar jy wat in jou rugsak sit terwyl in die krat jy nie verskillende kompartemente het nie. Ons het as groep ook twee addisionele koelerbokse geneem om ons koue goed vars te hou.

Terwyl van ons nog nes skrop, is die mans op soek na die hout om die vuur te kan aansteek, maar terwyl hul nog wonder wanneer die hout dan afgelewer gaan word, vind Elanie dit langs die binnebraai. Daardie aand is omtrent kos gemaak vir konings, meeste het gebraai en ander het selfs quiche verhit in die mikrogolfoond. Na almal dik geeët is, het ons gaan inkruip, opgewonde vir die avontuur wat die volgende dag begin.

Agter Louise se krat vind sy toe ‘n padda – van alle mense kies die ou gedierte vir Louise wat ‘n fobie vir paddas het.

Nota: Ek sal verseker volgende keer my eie rugsak dra, want die roete in geheel was glad nie uitmergelend nie. En dan kan jy nie iets in jou krat vergeet nie 🙈. Ek sal net ‘n koelerboks vat en lekker drankies pak aangesien daar ys is!

Dag 2: Donderdag 20 Oktober – Potberg na Cupidoskraal

Ek was aangenaam verras dat ons groep betyds reg was vir die oggend se stap. Die vorige aand is die staptyd vasgestel as half 8 vir 08:00 en al het ek toegelaat dat almal op hul eie tyd begin stap, is die laaste stapper (ek, natuurlik) 5 min voor 8 by die hut weg.

Dag een begin met ‘n bult en is die hoogste wat jy klim op die roete. Die klim was egter nie te erg nie en is ons almal, behalwe Adriaan & Linda, bo by die toring teen0 9:30 waar daar eers tee gedrink is en snacks geëet is terwyl ons probeer uitpluis watter van die gehuggies teen die Breede rivier nou eintlik Malgas is. Met die opdraand het ons verskriklik baie (en mooi) memetes gesien en net onder die rand het Shameel en Gaye die eerste Kransaasvoëls(Cape Vulture) gesien – daar was sommer baie en hulle het nogals laag verbygevlieg en was inderdaad ‘n hoogtepunt soos in die briefing uitgewys.

Almal het stadig weer begin aanstap na die middagete plek – die kruising van die Melkhoutrivier – terwyl ek agtergebly het om ‘n draai te loop en vir Adriaan & Linda te wag. Terwyl ek gewag het gewaar ek toe ‘n Rooibors Jakkalsvoel wat onder verby my gesweef het en ‘n mooi akkedis. Intussen het Adriaan & Linda my gevind en na hul gerus het, het ek ‘n ent saam met hulle gestap en lekker gesels en die veld bewonder. Toe ons so 11:30 die bankie bereik, het ek besluit om hul vir eers weer agter te laat aangesien ek vir Hannelize moes kry om middagete te kan deel. Ek het letterlik by die berg afgehardloop en 12:30 by die ander aangesluit. Ek dink ek het probeer weghardloop vir die wind, want dit het nogals erg gewaai op die rif af. In die hardloop moes ek mooi trap om nie die oogpisters, miskruiers en koggelmanders raak te trap nie. Ek het egter darem die Kaapse flap gewaar in my haas.

Ek het vir Gaye, Steven, Dirk & Reline by die eerste kruising gekry waar hulle middagete geniet het. Ek het net lank genoeg vertoef om te sien hoe ‘n streepmuis ‘n koekie kom haal om te eet wat vir hom gegooi is. Die res van die groep was net 100m verder by die tweede kruising (en offisiele middagete spot soos per briefing). Louise was besig om die krappe te voer – ek dink nie ek het al ooit so baie krappe in een kol gesien nie. Dit het my egter nie gekeer om ‘n vinnige dip saam met hul te vang na my middagete nie. 13:30 het ek gou teruggestap na die 1ste kruising en vir Adriaan en Linda daar gekry. Ek het saam met hul na die 2de kruising gestap, maar hul weer eens gelos en aangestap hut toe. Ek het so 15:15 by die hut aangekom waar daar ‘n lekker warm stort vir my gewag het. Die laaste stuk van die roete (vanaf die ou afgebrande hut) neem jou deur ‘n mooi stukkie woud en al was dit tempting om in die stroompie te gaan lê onder ‘n lieflike akkerboom, was ek teen die tyd al bietjie moeg.

Hierdie keer het ons maklik die hout gevind (insluitend die paar stukke wat ek van die vorige hut in my krat laat aanry het), maar die byl was kort. Ek loop toe om die hut om te loer of dit nie daar is nie en skrik my toe boeglam vir ‘n bosbo ooi. Sy het ook geskrik, maar nie te erg nie en het net daar langs die hut in die bos weggekruip.

Hannelize het haarself so goed uitgestrek op die grasperk agter die hut dat sy net daar aan die slaap geraak het vir ‘n middagslapie.

Die aand is daar weer lekker gebraai en heerlike vars slaaie gemaak. Om die kampvuur is daar stories gedeel en Shameel en Gaye het ‘n Witkruisarend gesien terwyl Hannelize ‘n klein slangetjie teegekom het.

Dag 3: Vrydag 21 Oktober – Cupidoskraal na Noetsie

Dag twee van die roete is die laaste dag in die berg en begin weer met ‘n rustige, maar lang klim. Almal het weer hul eie pas gestap en was ons redelik uitgesprei as groep. Die wind het weer bo-op die berg gewoed, maar gelukkig net so oor die rant het ek en Hannelize vir Steven en Gaye gekry net toe hul klaargemaak het met tee. So, toe kon ons hul lekker knusplekkie uit die wind benut vir ons teepouse. Die veld was ongelooflik mooi, selfs mooier as die vorige dag en vandag was die dag van toktokkies en sjongololos. Ek en Hannelize het vir Adriaan en Linda gekry, maar op ‘n kol het Hannelize vooruit geloop en terwyl ek en Linda nog besig is om te gesels, loop ek amper bo-oor haar wat in die paadjie lê. Sy maak toe natuurlike eers of sy haar enkel verstuit het, maar gelukkig was dit nie die geval nie. Sy wou net sorg dat ons nie verby ‘n uiters indrukwekkende ruspe loop nie. Hannelize het dit natuurlik gegoogle en ons ingelig dit is ‘n Emperor caterpillar en Adriaan sê hulle het al die mot gesien waarin die ruspe verander.

Toe ons laer gesak het, was die weer eintlik perfek – bewolk en nie te warm nie. Cape Nature het sulke bankies met “dakkies” gebou by die kruising van die grondpad. Hier het ek gou gestop om ‘n blaaspleister op my voet te plak terwyl Hannelize gou ‘n draai gaan loop het. Ek was nog so besig om my voet te dokter toe Hannelize my roep om te kom kyk. Ek huppel toe so een skoen aan om te gaan loer na die skerpioen wat sy teegekom het toe sy ‘n klip lig. Die bankies het nie vir my genoeg skaduwee na my sin gehad nie dus het ons besluit om net ‘n entjie aan te stap om ‘n lekkerder middageteplek te kry. Letterlik net oor die pad stap jy deur ‘n “rivier” waar hul ‘n paar bruggies gebou het en hier kon ons twee toe lekker in die koelte ons middagete geniet.

Die laaste stuk van die roete se geologie en flora is heeltemal anders, maar net so mooi. Ek het weer eens ‘n Kaapse flap gewaar. ‘n Mens loop redelike gelyk tot by die kuslyn waar jy dan nogals steil afsak tot seevlak (Gaye het later vertel hoe sy lank hier gesit en die walvisse van bo bekyk het). Dan is dit net ‘n vinnige stap oor Noetsie baai tot by die hut, of hutte. Ek het ‘n lewendige bloublasie ewe terug in die see gegooi net om te sien daar het nog baie uitgespoel.

Dit is pragtige moderne hutte met ‘n lekker stoep net buite die kombuis en ‘n fantastiese aparte braai area. Die fasiliteite was so goed dat Dirk selfs sy baard geskeer het – ‘n eerste op ‘n stap vir my. Dit is hier waar ons die “rodent infestation” beleef het en as jy nie ‘n muis gesien het nie, moes jy blind wees. Ons moes maar ons kos wegbêre die aand en kratte toemaak, want een het reeds sy pad tot in die kombuis gevind.  Van die stoep het ons ‘n walvis in die baai gewaar, net agter die breuk van die branders en later het die dolfyne voor die braai area verbygeswem.

Shameel, Louise, Gaye en Steven het nog genoeg energie gehad na die dag se stap om die kalkgrotte te gaan verken, wat ons aan die regterkant kon sien soos ons by die krans afgestap het.

Die aand het ons weer eens lekker vuur gemaak en sterre gekyk. Toe ek gaan slaap, het ek terug gekyk na die braai area en gesien hoe twee oë vir my loer in my flitslig. Toe sien ek net die vinnige beweging van ‘n katterige dier in die bos verdwyn.

Dag 4: Saterdag 22 Oktober – Noetsie tot Hamerkop

Dag 4 het begin met ‘n groepsfoto in een van daai groot hout fotorame (wat jy altyd by toeriste bestemmings sien) langs die hut. Almal het weer op hul eie tyd en pas begin stap en ek en Hannelize het eers 09:00 in die pad geval na ons gesluit het en die vergete items van ons medestappers ingepak het. Voor ons weer dieselfde krans uitklim, het ons egter ook gou die grotte van nader gaan beloer.

Die roete neem jou teen dieselfde krans uit en dan stap jy grotendeels bo op die kuslyn se kranse met pragtige uitkykpunte. Dit is ‘n mooi sonskyndag en al is die wind by tye koel, is dit glad nie onsmaaklik nie. Ons eerste stop (so 10:30) was bo op die kranse in ‘n klein oorhang vanwaar ons die broeiende duikers, insluitend die skaars witborsduikers en kransduiwe beloer het. Dit het egter vir my te veel na gwano gestink om hier te wou tee maak en het ons teen Hannelize se sin maar weer aangestap. Reg by die oorhang was daar egter ‘n lekker beskutte plekkie op die rotskrans wat ek nogal gedink het geskik is vir ’n enkel persoon, net om later uit te vind dit is presies waar Louise haar eerste koppie tee vir die dag genuttig het (sy drink sommer 6 op ‘n dag).

Ons drentel al langs die kus langs en net soos ons vir Adriaan en Linda kry, sien ons pragtige grotte onder teen die kus en stalgatiete en -miete bolangs die krans. Hulle vertel hoe hul laas tot by die stalagtiete en -miete geloop het, maar ons sien nie kans daarvoor nie en is tevrede om dit van ‘n afstand te bewonder. Ons stap vooruit en gewaar ‘n Kransvalk(Rock Kestrel) en Swerfvalk( Peregrine falcon), maar vind teen 11:30 nog nie ‘n geskikte plekkie vir tee nie en besluit om maar deur te druk na middagete by Stilgat aangesien ons nie ver weg was nie.

Teen so 12:00 kom ons by die trappe wat jou afneem na Stilgat se getypoele. Onder by die water kry ons toe ook vir Louise waar sy besig is om ‘n koppie tee te drink. Ons vind egter vir ons ‘n plekkie ‘n entjie weg teen die krans waar ons eers iets eet en drink voor ons die poele verken. By ‘n klein rotspoeletjie naby ons vind ons verskriklik baie kluisenaarkrappies, ‘n paar garnale en ‘n gewone krappie. Ons is ‘n bietjie na laagwater daar en die gety het al begin stoot, maar die water was te aanloklik om nie te swem nie en Hannelize merk op dat dit sou lekker wees om te kon snorkel. Ek sal definitief volgende keer my snorkelgoed inpak! Ons bak nog ‘n bietjie droog in die son voor ons weer in die pad val. By die trappe op gewaar ons ‘n paar dassies – een lekker vet een.

Daar was baie walvisse van bo te sien, maar by een plek gewaar ons iets in die water wat nie ‘n walvis is nie. Dit neem ons ‘n tydjie om agter te kom dit is ‘n rob wat in die branders speel. Ons sit ons toe so en verkyk aan die rob en nabye walvis met haar kalfie, toe swem daar wraggies ‘n skool dolfyne ook verby. Op die roete het Hannelize heelwat “krok”-agtige akkedisse gesien aangesien sy voor gestap het en uiteindelik kon ek toe ook darem een gewaar en ‘n foto kry van die outjie.

Ek en Hannelize was vandag die agterlopers en het eers teen 16:30 by die strand uitgekom waaroor jy aan die einde van die dag moet stap om by die hut teen die duin uit te kom. Op die strand het ons vir Steven gekry opsoek na ‘n swemplek. Ons het ‘n Swarttobie broeipaar gesien en ‘n paar Drietoon strandlopers wat met hul beentjies koddig oor die sand hardloop en teen 17:00 by die hut uitgekom met sy inwonende fisant. By die hut was ook ‘n waterfiskaal en gewone fiskaal en op pad het ek en Hannelize ‘n Kaapse kliplyster gesien. Te danke aan Gaye se Sasol app kon ons die lyster identifiseer toe ons by die hut aankom.

Johan en Elmien het vertel dat hulle ‘n pofadder gesien het.

Dag 5: Sondag 23 Oktober – Hamerkop tot Vaalkrans

Die oggend het ek myself vroeg uit die bed gesleep om die sonsopkoms te kyk. Ek is nie juis ‘n oggendmens nie, maar het vir myself gesê wanneer gaan ek weer die geleentheid kry om hiernatoe te kom en die pragtige natuurskoon te bewonder.

Die dag se stap bestaan uit ongeveer 5km se strandstap en ek het sommer besluit om kaalvoet op die sand te loop. Ek en Hannelize was weer eens die agterosse vir die dag en op die strand het ons baie strandlopertjies gesien en ook ‘n Damara sterretjie. Ons het ook “Plough snails” (wat ons verkeerdelik ken as periwinkles) gesien. ‘n Mens stap verby Lekkerwater Lodge, maar is gesê ons mag nie inloer vir ‘n koppie koffie nie. Nie dat dit ons gepla het nie, want ons het nie so ver daarvandaan, rondom 10:00, vir ons ‘n lekker plek vir tee gekry teen ‘n sandrots en rustig gesit en kyk na die branders wat inrol voor ons die strand verlaat.

Die laaste ± 6km stap jy dan weer bo die kuslyn deur diverse kusplantegroei. So 3km voor die hut is daar ‘n afdraai na spuitgate. Hier het ek ‘n vinnige swem gevang, net betyds voor die water te hoog was, en toe middagete geniet. Op pad na die hut het ons ‘n klein slangetjie gewaar, weer ‘n  Kransvalk gesien en baie walvisse met hul walfies (Hannelize het sommer ‘n walviskalfie ‘n walfie gedoop ☺). Ek moes gedurig my verkyker uithaal en bere, sodat ek my verkyker se sakkie laat val het en ‘n ent moes terugloop om dit te gaan soek.

Vaalkrans hut sit bo op uitgeholde rotse en dreun as die branders onder teen die krans vasslaan. En op die punt van die krans is ‘n paar bankies waar ons lekker gesit en kyk het hoe die walvisse vir ons omtrent ‘n show gegee het.

Dag 6: Maandag 24 Oktober – Vaalkrans tot Koppie Alleen

Ons het die oggend opgestaan en sommer vroeg ons koffie op die bankies gaan sit en drink aangesien daar weer ‘n walvis reg voor by die hut was. Ek het vir die laaste dag ewe ‘n Fritatta gemaak met eiers en die oorskietgroente (met spek on the side), want gelukkig was Shameel heel happy om met my te deel, want ek sou dit nie alleen kon opeet nie.

Die dag was lekker warm en daar was geen sig van die reën soos voorspel nie. Hannelize het ‘n lekker groot pofadder gewaar en ons het hom dopgehou waar dit eers gelyk het op hy wil selfmoord pleeg deur van die krans in die see in te seil en toe later omgedraai het en oor die rots geseil het tot in die bos vir skuiling.

Net voor die einde van die roete kry ‘n mens die Hippo pools, pragtige natuurlike getypoele. Hier moes ons egter die poel deel met die publiek (alhoewel grotendeels uitlandse toeriste was). ‘n Snorkel sou hier ook handig ingekom het en ek het baie lekker geswem, amper te lekker, sodat ek die laaste opdraend moes speed walk om betyds te wees vir die 12:00 shuttle wat ons teruggeneem het na ons voertuie by Potberg.

Terug by Potberg, kon ons selfs ‘n lekker warm stort vang voor ons ongelukkig die pad huis toe  moes aandurf.

Baie dankie aan almal wat die stap ‘n onvergeetlike ervaring gemaak het.

Stappers:

Elanie Poultney (Leier) (Tygerberg)
Hannelize O’Kennedy (Tygerberg)
Shameel Ho’Kim (Tygerberg)
Louise Van der Merwe (Stellenbosch)
Dirk & Reline Du Toit (Tygerberg)
Johan & Elmien Botha (Tygerberg)
Steven & Gaye Hoskins (Paarl Wellington)
Adriaan & Linda (Paarl Wellington)

 

Notas vanaf Dirk en Reline:

Dit is opmerklik hoe die elektrisiteit en warmwatervoorsiening oor die jare verbeter het.

Dit tesame met die gasstoof en yskas en vervoer van bagasie, dra baie by tot die gerief van die stap.

Die Rooikrans en Port Jackson indringers neem geleidelik toe ten spyte van die kennisgewings dat dit biologies bestry word.

Die vermoede bestaan dat die bestryding van die indringers beperk is tot biologiese bestryding en dat dit nie aktief versprei word nie, want die Rooikrans kom voor tot by die kuslyn.

Dit is jammer dat die Wifi nêrens gewerk het nie.

Elmien se “review”

Ek voel bevoorreg en bederf na hierdie wonderlike stap.

Die eerste twee dae het mens die wonderlike berg, kloof en fynbos uitsigte.  Die verskeidenheid fynbos is asemrowend.  Dan kom die aasvoels jou ook nog groet op die hoogste dele van die berg.  Hulle sweef saggies oor jou en maak wye draaie in die verte.

Wanneer jy heel bo is lê die see aan die een kant en die lappies kombers van landerye en die Breederivier aan die ander kant.

Dan volg die seekant die volgende 3 dae.  Die pragtige kuslyn van poele,  klipplate en grotte.  Dan is daar die walvisse wat luierig in die water le. Sommige met kleintjies.

Soms stap jy lekker op die sand en wil dan net klippies en skulpe optel.

Daar is heerlike poele waarin mens kan swem.  En indien jy gelukkig is sien jy ‘n pofadder, wat nie van die kleinste is nie.

Dan loop jy weer hoog op die platorand en kan jy die walvisse baie goed sien.

Die hutte is goed toegerus met heerlike warm storte en baie gerieflik en skoon.

So,  bevoorreg en bederf was ons beslis.